Kollig op aansoeke om verlof tot appél – Waarom geen redes deur hoogste howe?

November 1st, 2013
x
Bookmark

Deur Willie Herbst

ABSTRACT: Spotlight on applications for leave to appeal

Why no reasons by highest courts?

The small claims court, magistrates’ courts, Labour Court and the High Court of South Africa are required by statute to provide motivated reasons for findings and judgments handed down by them.

There are no such obligations on the Supreme Court of Appeal or the Constitutional Court. These courts accordingly do not, as a rule, provide reasons for their decisions in response to applications for leave to appeal.

This situation is unfortunate. The provision of reasons by a judicial officer, inter alia, explains to the parties and to the public at large who have an interest in courts being open and transparent, why the decisions in a case were taken. It is a discipline that curbs arbitrary judicial decisions. It is also contrary to the provisions of s 1 of the Constitution, which requires judges not to act arbitrarily and to be accountable. The manner in which the courts ordinarily account for their decisions is by furnishing reasons.

It is accordingly suggested that the relevant statutes should also make it obligatory for the Constitutional Court and the Supreme Court of Appeal to provide reasons for a decision regarding an application for leave to appeal to these courts.

Teen die einde van 2012 het die Vrystaat Hoë Hof in Bloemfontein (die hof) in die saak Marthinus Petrus Odendaal Aveling NO en Andere v Michiel Daniël Burger NO en Andere (ongerapporteerde saakno: 3234/2012, 8-11-2012) (Ebrahim R) aansoek om summiere vonnis teen vier verweerders toegestaan. Die eerste drie verweerders was trustees van ’n diskresionêre familietrust. Die vierde verweerder was in sy persoonlike hoedanigheid gesiteer op grond van ’n skriftelike borgstelling wat hy ten behoewe van die verweerdertrust gegee het.

Die eiser se eis was gebaseer op die bepalings van ’n skriftelike ooreenkoms tussen die eiser en die verweerdertrust, ingevolge waarvan die verweerdertrust, voortvloeiend uit ’n huurkontrak vir skape, aanspreeklikheid teenoor die eiser erken vir betaling van ’n bedrag van ietwat meer as R 1,8 miljoen plus rente of, na die keuse van die verweerdertrust, die teruglewering aan die eiser van skape wat deur die verweerdertrust van die eiser gehuur was en wat die verweerdertrust versuim het om terug te lewer.

Hierbenewens het die verweerdertrust, as sekuriteit vir betaling van die bogenoemde bedrag, ’n tweede verband oor sy plaas ten gunste van die eiser ge­registreer. Die verweerdertrust, sowel as die vierde verweerder in sy persoonlike hoedanigheid, het die aksie bestry en in antwoord op die aansoek om summiere vonnis getuienis aan die hof voorgelê dat die eiser (wat ook ‘n diskresionêre fa­milietrust is) op geen stadium enige skape aan die verweerdertrust verhuur, beskikbaar gestel of gelewer het nie.

Die verweerdertrust het in die opponerende beëdigde verklaring verder die voorafgaande geskiedenis uiteengesit van die ooreenkomste wat met betrekking tot skape gesluit was – nie tussen die verweerder trust en die eisertrust nie, maar inderdaad tussen ’n ander fa­milietrust (waarvan die vierde verweerder ook ’n trustee is) as huurder en ’n individu in sy persoonlike hoedanigheid as verhuurder wat ook ’n trustee is van die eisertrust.

Laasgenoemde trust as huurder, kon nie sy verpligtinge nakom nie en uit vrees dat ’n diefstalklag teen die vier­de verweerder persoonlik, sowel as teen sy eg­genote (wat ook een van die trustees van die verweerdertrust is), gelê kon word wat daartoe kon lei dat hulle gearresteer kon word, het die verweerdertrust die dokumente op grond waarvan die aksie ingestel is, geteken, die betrokke verband geregistreer en het die vierde verweerder die borgstelling geteken.

Tydens die aansoek om summiere vonnis het die verweerders betoog dat die kontrak, wat die basis vorm vir die eiser se eis, ’n gesimuleerde kontrak is en derhalwe onafdwingbaar is. Verder was die verweerdertrust se hoofverweer ’n kategoriese ontkenning dat die eiser ooit enige skape aan die verweerdertrust verhuur, gelewer of beskikbaar gestel het ingevolge ’n huurkontrak of kragtens enige ander regsbasis.

Aansoek om verlof tot appél

Die hof het die aansoek om summiere vonnis toegestaan waarna die verweerdertrust ’n aansoek gerig het vir verlof om teen die vonnis te appelleer. Die gronde vir die aansoek was, onder andere, dat die hof die verkeerde maatstawwe toegepas het by oorweging van die aansoek om summiere vonnis, naamlik dat die hof die opponerende be­ëdigde verklarings van die verweerdertrust op waarskynlikhede geoordeel het en geloofwaardigheidsbevindinge met betrekking daartoe gemaak het en versuim het om te oorweeg of die verweer wat voor die hof geplaas was, geldig sou wees indien dit by die verhoor bewys sou kon word. Daar is verder aangevoer dat die hof fouteer het in sy bevinding dat dit ondenkbaar is dat die een trustee van die verweerdertrust ‘supposedly independent from family connection’ en bewus van die simulasie (‘farse’), die betrokke skuldbewyse se ondertekening onder die omstandighede sou gemagtig het. Die hof het op sterkte daarvan be­vind dat die verweerder se verweer ongeloofwaardig is en verwerp moet word.

Die hof het die aansoek vir verlof om appél van die hand gewys. Toe die hof gevra is om redes te verskaf vir die beslissing is die redes verskaf by wyse van ’n dokument wat uit een sin bestaan: ‘In terms of rule 6(2)(d) of the Rules of the Supreme Court of Appeal, the parties are referred to my judgment delivered on [die betrokke datum] on the merits of the application.’

Die verweerdertrust het toe by die Hoogste Hof van Appél aansoek gedoen vir verlof om appél. Die gronde vir die aansoek was dat –

  • die hof fouteer het deur die betrokke aangeleentheid op waarskynlikhede te besleg;
  • die verweerdertrust slegs nodig gehad het om die hof by wyse van beëdigde verklaring te oortuig dat hy ’n bona fide verweer het deur feite voor te lê wat, indien dit by die verhoor bewys sou word, ’n geldige verweer sou daarstel op die eis van die eiser; en
  • die hof in die aansoek vir verlof om appél, geen bevinding gemaak het waarom ’n ander hof nie op dieselfde feite moontlik tot ’n ander bevinding sou kom nie.

Die Hoogste Hof van Appél het die aansoek vir verlof om te appelleer van die hand gewys sonder opgawe van redes, behalwe vir ’n kriptiese bevel wat, onder andere, soos volg lees: ‘This court therefore, in general terms, concurs in the reasoning set out in the judgement of the court below.’

Daar is nêrens verwys na die betoog deur die applikant en die regsbeginsels waarop gesteun is deur enige van die partye ter ondersteuning of opponering van die aansoek nie.

Verskaffing van redes

Die tersaaklike statutêre bepalings van toepassing op die hof vir klein eise, die landdroshof, die Arbeidshof, sowel as die Hoë Hof van Suid-Afrika, maak dit verpligtend om gemotiveerde redes vir bevindinge en uitsprake te verskaf. Daar is egter geen derglike bepaling van toepassing op die Hoogste Hof van Appél of die Konstitusionele Hof nie.

Die statutêre bepalings is volkome in ooreenstemming met die voorskrifte en gees van die Grondwet. Dit is ook ooglopend verstandig en sinvol. Indien ’n regterlike amptenaar se bevindinge met betrekking tot die feite, wat volgens hom of haar bewys is, en sy of haar redes vir die vonnis nie by wyse van ’n deurdagte behoorlike samevatting beskikbaar is nie, word ’n nuwe grond vir verskille en dispute tussen die litigante geskep en dit plaas ’n verdere onnodige las op die hof van appél.

’n Applikant het in sy aansoek aan die Hoogste Hof van Appél vir verlof om te appelleer dieselfde frustrasie ervaar toe daardie hof geen redes verskaf het vir die weiering nie. Die applikant het hom toe op die Konstitusionele Hof beroep. In Mphahlele v First National Bank of SA Ltd 1999 (2) SA 667 (CC) het Goldstone R die gebruik van die Hoogste Hof van Appél behandel.

In hierdie uitspraak word bevestig dat daar geen uitdruklike grondwetlike voorsiening is wat van regters vereis om redes vir hulle uitsprake te gee nie, maar daar word wel verwys na die bepalings van a 1 van die Grondwet: ‘… [T]he rule of law is one of the founding values of our democratic state, and the judiciary is bound by it. The rule of law undoubtedly requires judges not to act arbitrarily and to be accountable. The manner in which they ordinarily account for their decisions is by furnishing reasons’ (in para 12).

In die Konstitusionele Hof se uitspraak word ook vermeld dat die verskaffing van redes deur ’n regterlike amptenaar etlike doeleindes bevredig, onder andere: ‘It explains to the parties, and to the public at large which has an interest in courts being open and transparent, why a case is decided as it is. It is a discipline which curbs arbitrary judicial decisions’ (in para 12).

In dieselfde uitspraak word verder vermeld dat die verskaffing van redes noodsaaklik is vir die appélproses: ‘[E]nabling the losing party to take an informed decision as to whether or not to appeal or, where necessary, seek leave to appeal’ (in para 12). Dit verskaf dan ook leiding aan die publiek in verband met dergelike aangeleenthede en daar word, ten slotte,  deur die Konstitusionele Hof bevind dat waar ’n beslissing aan ’n verdere reg tot appél onderworpe is en redes nie verskaf word nie, dit moontlik tot ’n skending van die grondwetlike reg van toegang tot howe, mag lei (in para 12).

In die uitspraak word beklemtoon dat ’n bevel deur die Hoogste Hof van Appél, ingevolge waarvan verlof om te appelleer geweier word, die einde van die regspad vir die betrokke litigant is en dat daardie bevinding nie aan verdere appél onderhewig is nie. Op grond daarvan, is die bevinding dus dat dit nie vir die Hoogste Hof van Appél nodig is om redes vir sy bevinding te verskaf nie: Die redes is reeds deur die hof a quo verskaf en die litigant moet daarmee genoeë neem.

Goldstone R verwerp die betrokke appellant se beroep op die bepalings van a 32(1) van die Grondwet wat bepaal dat elke persoon die reg van toegang het tot enige inligting wat deur die staat beheer word, as synde ontoepaslik. Hy verwys egter in die betrokke uitspraak ook glad nie na die bepalings van a 33(2) van die Grondwet nie. Hierdie artikel bepaal: ‘Everyone whose rights have been adversely affected by administrative action has the right to be given written reasons.’

Afgesien van die voormelde bepalings is dit, na my mening, bloot logies en praktyksinvol dat die Hoogste Hof van Appél, en inderdaad ook die Konstitusionele Hof, wel redes sal verskaf vir besluite om aansoeke vir verlof om te appelleer toe te staan of af te wys.

Op slot van sake is die enigste praktiese manier waarop sodanige aansoek deur die betrokke aangewese appélregters gefinaliseer kan word tog sekerlik dat die redes vir die uitspraak van die hof a quo gelees en oorweeg moet word, aan die hand van die gronde vir die aansoek vir verlof om te appelleer en die opponerende verklaring daartoe, en dat ’n besluit dan, op grond van sekere beginsels en oorwegings, gemaak moet word. Daardie beginsels en oorwegings moet tog sekerlik deur die betrokke appélregters helder en duidelik geïdentifiseer word voordat dit in die betrokke geval toegepas word of, dan sekerlik vir ’n ander regsbeginsel wat net so duidelik geïdentifiseer word, nie toegepas word nie.

Indien hierdie beskouing korrek is, gaan dit tog nie veel ekstra moeite of tyd van die betrokke appélregter verg om dit in die vorm van skriftelike redes uiteen te sit nie. Dit sal terselfdertyd ook die doeleindes, soos geidentifiseer deur Goldstone R in para 12 van die beslissing in die Mphahlele-saak, bevredig.

Deur dit nie te doen nie is nie net die betrokke litigante nie, maar ook hulle regsverteenwoordigers en inderdaad die publiek in die duister gelaat welke gronde en argumente wat deur die litigante gebruik is, verwerp of aanvaar is en wat die betrokke appélregters genoop het om die bepaalde besluit te neem.

Met verwysing na die aansoek van die verweerdertrust wat hierbo uiteengesit is, is dit ook onduidelik watter beginsels deur die Hoogste Hof van Appél toegepas is in die weiering van die betrokke aansoek.

’n Goeie verwysing na die waarde en nut van die verskaffing van redes wanneer ’n aansoek vir verlof om appél deur die Konstitusionele Hof van die hand gewys word, is te vind in die uitspraak van Jafta R in die saak Government of the Republic of Zimbabwe v Fick and Others 2013 (5) SA 325 (CC) in para 102: ‘In some cases the absence of prospects of success may be decisive. For instance, this will be the position where no pronouncement is to be made by this Court on an important constitutional principle which will guide the litigants and other courts in future cases. But where leave is sought against a fully reasoned judgment of the Supreme Court of Appeal – as is the position here – prospects of success become paramount.’

Gevolgtrekking

Ek is van mening dat dit aangewese is dat daar statutêr voorsiening gemaak sal word dat die Hoogste Hof van Appél, en selfs die Konstitusionele Hof, na aanleiding van ’n aansoek vir verlof om na daardie hof te appelleer, redes sal verskaf vir ’n bevinding – hetsy positief of negatief.

Willie Herbst BCom (Stell) LLB (UFS) is ’n prokureur by Hill McHardy & Herbst Ing in Bloemfontein.

This article was first published in De Rebus in 2013 (Nov) DR 32.