Onwillekeurige verstryking van algemene prokurasie

April 25th, 2016
x
Bookmark

General Power of attorney

Deur Willie Herbst

Abstract: Involuntary lapse of power of attorney

In its unanimous judgment handed down by Hoexter JA in the case Tucker’s Fresh Meat Supply (Pty) Ltd vs Echakowitz 1958 (1) SA 505 (AD) the Appellate Division makes the finding that the consent by a husband to his wife, to whom he is married in community of property, to carry on business as a public trader in the name of the joint estate, does not continue to be effective after his insanity.

This has apparently led to a fairly general acceptance of the principle that, whenever the mandator of a power of attorney should suffer a change of mental status during the subsistence of such power of attorney, the power of attorney lapses involuntarily. This approach can create serious humiliation when applied, for instance, to the case where a husband grants a written general power of attorney in favour of his wife, specifically to address the possible situation that the husband may later on suffer from Alzheimer’s disease, and then has need of the wife’s ability to attend to the administration of his financial affairs.

A possible solution to this vacuum would be for the mandator and agent to combine the power of attorney with a mandate agreement, which creates a financial obligation on the mandator to pay a consideration to the agent to perform in terms of the general power of attorney until the death of the mandator.

Such was the situation in the case Glover v Bothma 1948 (1) SA 611 (W), and applied by Caney J in the case Ward v Barrett N.O. and Another 1962 (4) SA 732 (NPD). I submit that this is the legally correct approach, namely, that the intention and mental ability of the mandator at the time the power of attorney are the decisive factors to be taken into account and applied regarding the question whether a particular power of attorney should lapse when a change of the mandator’s mental ability should take place during the subsistence of the power of attorney.

In die artikel deur Bobby Bertrand ‘The need for enduring powers of attorney for older persons with impaired decision-making capacity’ (2011 (Mei) DR 38)  verwys die skrywer na die aanbevelings deur die Regshersieningskommissie, wat tot dusver nie uitgevoer is nie.  Die huidige algemeenaanvaarde beginsel is skynbaar dat ’n algemene prokurasie onwillekeurig verval indien die volmaggewer ’n verandering van status ondergaan waardeur sy of haar handelingsbevoegdheid aan bande gelê word. Hierdie standpunt word onderskryf deur die skrywers en die uitspraak in die saak Tucker’s Fresh Meat Supply (Pty) Ltd vs Echakowitz 1958 (1) SA 505 (AA) op 509 tot 511.

Die Romeins-Hollandse gesag waarop al die bogenoemde gesagsbronne steun, is Voet 23.2.44 en 2.4.36 (Percival Gane The selective Voet being the Commentary on the Pandects Paris edition of 1829, vol 4 (Durban: Butterworths & Co 1956)). Ek het Gane se vertaling van hierdie gedeeltes nagegaan, maar ek is onder die indruk dat Voet se kommentaar rondom die regmatigheid van optrede deur ’n vroulike ‘public trader’ wat as haar eg­genoot se gemagtigde sodanige beroep beoefen, wentel.

In die Tucker’s saak op 511F is die hof van die mening dat: ‘The second legal proposition advanced by appellant’s counsel was that the consent of the husband which is required by a wife to enable her to carry on business as a public trader, if the consent is given before the husband’s insanity, continues to be effective after his insanity.  Counsel rightly admitted that when a sane husband permits his wife to carry on business as a public trader, his consent is a continuing one which he may, however revoke at any time and he was quite unable to persuade us that an insane husband could continue such consent. Nor were we able to find any fault with the statement of Williamson J, that the wife, in carrying on business as a public trader, was acting as the agent of her husband (Voet 23.2.44 and 2.4.36) and that her agency was terminated by the insanity of her husband.’

Die bogenoemde standpunt deur Hoexter AR is vatbaar vir die interpretasie dat die kranksinnigheid van die volmaggewer beteken dat hy nie in staat was om deurlopend volmag (magtiging) aan sy vrou te verleen om ’n handelaar te bly nie en dat daar derhalwe aanvaar moet word dat die volmag (wat nodig was vir die vrou om as handelaar voort te gaan) verval het toe die volmaggewer kranksinnig geword het.

Hierdie standpunt is ongetwyfeld nie net regtens nie, maar ook logies korrek, indien die handelinge wat deur die ‘public trader’ uitgevoer wil word namens haar eggenoot, as volmaggewer, telkens uit die aard van die handeling ’n vars volmag benodig het. Dit was juis die hof se standpunt in die Tucker’s-saak dat die volmagnemer (mev Echakowitz) haar eggenoot (wat non compos mentis is) se magtiging benodig het vir elke afsonderlike handeling wat sy as handelaar verrig het. Dit beteken dat die volmaggewer dan telkens ’n nuwe magtiging vir elke handeling sou moes gee en, ooglopend beteken dit dan dat, indien die volmaggewer nie meer oor die vermoë beskik om ’n regsbesluit te neem nie, beteken dit dat die volmagnemer (sy eggenote) nie meer volmag het vir die nuwe handelinge nie.

Oorweeg egter die scenario waar ’n volmaggewer wat, terdeë daarvan bewus is dat hy of sy chirurgie moet ondergaan en vir ’n periode van drie weke onder verdowing gehou sal word en dus nie in staat sal wees om ’n regmatige regsbesluit te neem nie, ’n prokurasie verleen aan ’n volmagnemer om hom of haar gedurende daardie drie weke in alle opsigte en met alle transaksies te verteenwoordig. Sy of haar bedoeling tydens die gee van die volmag is om juis voorsiening te maak vir die reg van die volmagnemer om namens hom of haar te handel tydens die periode wat hy of sy nie in staat is om enige besluit te neem nie.

Dit blyk derhalwe vir my meer korrek te wees dat indien die volmaggewer by die gee van die volmag by sy of haar volle verstandelike vermoë is om regsbesluite te neem, en sy of haar bedoeling juis is om aan die volmagnemer die magte te gee soos uiteengesit in die skriftelike ‘algemene prokurasie’ wanneer hy of sy (die volmaggewer) nie meer oor die verstandelike vermoë sal beskik om besluite te neem nie, dit ’n perd van ’n ander kleur is.

Dit gebeur elke dag dat persone skrif­telik ’n volkome korrekte en regmatige testament verly en in die testament sekere magte aan sekere persone verleen (bv, aan die eksekuteur of ’n trustee van ’n testamentêre trust) en daardie magte verval nie by die dood van die testateur nie. Inteendeel.

In die saak van Ward vs Barrett N.O. and Another 1962 (4) SA 732 (NPD) verwys Caney R op 737D en verder na verskeie moontlikhede wanneer ’n volmag herroep kan word en hy die opmerking: ‘In such event the power of authority if irrevocable by the principal, is revoked by his insolvency’ (737F). In daardie geval is die verval ’n gevolg nie van ’n verandering van verstandelike status van die volmaggewer nie maar omdat die Insolvensiewet 24 van 1936 se bepalings dan van krag word.

Na my mening is Caney R se benadering regtens korrek, naamlik: Dieselfde beginsels en benadering wat toegepas is op die vraag of die volmaggewer die reg het om die volmag te herroep, (naamlik wat was die bedoeling wat die volmaggewer gehad het met die gee van die volmag tydens die gee van die volmag), is van toepassing by die vraag oor wanneer ’n volmag onwillekeurig verval (my kursief).

Natuurlik is al die bogenoemde menings onderhewig aan enige moontlike statutêre ingryping, soos die bepalings van die Insolvensiewet, en dit is ook onderhewig aan enige moontlike bevele wat deur ’n bevoegde hof gemaak kon gewees het met betrekking tot die betrokke feitekompleks.

In die vooropstelling word aan die hand gedoen dat, indien ’n eggenoot ’n ‘algemene prokurasie’, ten gunste van sy eggenote verly juis met die verklaarde bedoeling om aan sy eggenote die reg en bevoegdheid te gee om alle finansiële handelinge namens die eggenoot te verrig wanneer die eggenoot as gevolg van Alzheimer’s se siekte nie meer in staat is om dit te doen nie, en die eggenoot tydens die verlyding van die ‘algemene prokurasie’ ten volle handelsbevoegd was en die prokurasie verskaf het juis om voorsiening te maak vir daardie regte wanneer hy totaal onkapabel is, sal die volmag nie verval as gevolg van die volmaggewer (die eggenoot) se verandering van status wat sy handelsbevoegdheid inperk of totaal vernietig nie.

Dit is vanselfsprekend dat ’n kontrak, soos byvoorbeeld, ’n huurkontrak wat vir ’n bepaalde tydperk gesluit word, se regswerking nie beëindig word deur die dood van een van die partye daartoe nie. Ek kan my byvoorbeeld ’n scenario indink van ’n bejaarde plaaseienaar wat sy veeplaas vir ’n periode van sê vyf jaar verhuur maar bedag is op die moontlikheid dat die huurder die grond mag oorbewei en derhalwe skade aan die verhuurder kan toebring. Juis om hierdie aspek te beheer, word ’n klousule dan in die huurkontrak aangebring dat ’n agent van die verhuurder die veebesetting deur gereëlde besoek aan die plaas sal monitor. Vir hierdie doel verskaf die verhuurder dan dienooreenkomstig ’n skriftelike volmag aan sy agent. ’n Jaar na die aanvang van die huurtermyn is die verhuurder as gevolg van ’n beroerte volkome handelingsonbevoeg. Kan daar ooit redelikerwys geargumenteer word dat die volmag wat hy aan sy agent verskaf het dan verval?

Ek is van mening dat dit onlogies en regtens onontvanklik is.

Die bestaan en regswerking van die huurkontrak word nie daardeur geaffekteer nie. Dit is geykte reg.

Die verhuurder se belange het behoef­te aan beskerming minstens vir solank die betrokke huurkontrak bly bestaan.

Aanvaar vir doeleindes van hierdie scenario dat die agent geen handels­belang het in die monitor van die verhuurder se belange nie en dat hy dit doen bloot as ’n vriendskapsgebaar (hoewel hy dit baie doeltreffend en effektief doen). Kan daar dan hoegenaamd geargumenteer word dat die huurder, indien die agent hom sou aanspreek omdat die plaas oorbewei word, hom daarop kan beroep dat die agent geen volmag, het om in te meng in die wyse waarop die huurder die plaas benut nie? Dit kan tog nie. Tydens die gee van die volmag, was die verhuurder volkome handelsbevoeg en het hy die volmag gegee juis om sy belange te beskerm minstens vir die duur van die huurkontrak selfs al sou hy (die verhuurder) nie in staat wees om dit self te doen nie.

Indien die volmag geskep is as ’n bepaling in die betrokke huurkontrak, sal die agent natuurlik die kontrak as sodanig kan gebruik as sy gesag om die betrokke weiveld te ondersoek. Indien die kontrak egter nie so ’n bepaling bevat nie en die verhuurder ’n afsonderlike ‘algemene prokurasie’ aan die agent verskaf het sonder om die huurder in kennis te stel van die inhoud of selfs die bestaan van sodanige algemene prokurasie, waarom sal die agent dan nie geregtig wees om, op grond van die bestaan van die algemene prokurasie, namens die verhuurder die nodige inspeksie van die huurgrond te doen nie? Dit is tog onlogies dat hy verbied sal word om sy volmaggewer se belange ingevolge van die huurkontrak te beskerm ten spyte van die bestaan van die volmag.

In Bertrand se artikel verwys die skrywer na die redelike algemene gebruik van bejaarde persone om ’n algemene prokurasie te verly, juis om voorsiening te maak vir ’n situasie soos hierbo geskets. Hy verwys dan ook na studies wat op twee verskillende geleenthede deur die Suid-Afrikaanse Regshersieningskommissie onderneem is en aanbe­velings wat deur hierdie liggaam gemaak is vir die skep van sekerheid deur statutêre bepalings. Dit is verstommend dat die regering steeds nie van hierdie verstandige en deurdagte aanbevelings van die kommissie gebruik maak nie.

Dit skyn vir my ’n moontlike oplossing vir ’n taamlik algemene situasie te wees dat die volmaggewer en die volmagnemer (in die scenarios waarna hierbo verwys word) telkens ’n lasgewingskontrak met mekaar sluit, met bepalings dat die lasgewing sal voortbestaan tot met die afsterwe van die volmaggewer, of die vroeëre skriftelike herroeping daarvan deur die volmaggewer (mits die volmaggewer oor die geestelike vermoëns beskik om dit te herroep) en telkens ook met die verdere bepaling dat die volmagnemer ’n ooreengekome vergoeding (bv R 5 per maand) sal ontvang vir die handelinge wat hy of sy verrig. Dit maak dit dan ’n kontrak wat skynbaar volgens bestaande gesag ’n verandering van die status deur die volmaggewer met betrekking tot sy of haar handelingsbevoegdheid, sal oorleef.

Willie Herbst BCom (Stell) LLB (OVS) is ’n prokureur by Hill McHardy & Herbst in Bloemfontein.

This article was first published in De Rebus in 2016 (May) DR 28.

X
De Rebus